Gerugte van reën
My pa het altyd
gesê dit reën nie geld, maar hoop. Hy
het immers ‘n fyn studie van die Kalahari se ekonomie en weer gemaak. Die eb en
vloei van die reën patrone het hy maar te goed geken. Sy sestiende verjaar present aan my was dan
ook Andre. P. Brink se roman, “Gerugte van Reën”.
In die Kalahari
leer jy vroeg die waarde van reën en water. Jy ken die reuk van nat rooi oker
grond wat ‘n week later in groen uitbreek. Hoe dit baldadig die rooi landskap
onder die Kameeldorings in ‘n diep groen “happiness “ toor.
Jy onthou die opgewondenheid
van die bostelegraaf wat laat weet die Molopo begin loop. Daai dolle gejaag om
betyds by Bray uit te kom. Sodat jy saam met jou pa in die droë loop kan staan
terwyl die water deur jou tone sypel. Hoe daardie magiese onthou oomblik jou
vries in tyd tot jy enkel diep verwonder staan.
Later die
gelukkige gedruis in die Bray Hotel se kroeg, van moed skep en hoe die boere begin
praat van trekkers koop, nog ‘n boorgat sink en volgende jaar se universiteits
gelde betaal. Sommiges sal ook effens
vermakerig sê , daardie mannetjie van die bank moet weer op sy werf kom
rondloop of hy klaar besig is om sy goed op te skryf vir die bankrot veiling.
My pa het die weer
soos ‘n palmleser jou toekoms lees , gelees. Sy besigheidsplanne op die
agterkant van sy Dunhill 30 sigaretboksies gemaak, na aanleiding van die manier
wat die wind uit die noordweste gewaai het. As ons uitgery het in die distrik
het hy onder ‘n kameeldoring gestop, opgekyk en die wolke se beloftes gelees.
Wanneer hy by die boere gestop het , om besigheid te praat het presies geweet wat hulle nodig gehad het
om te hoor.
In die sewentigers
en vroeë tagtigers was daar altyd reën, hoop en besigheid. Maar die gerugte van
reën het stadiger minder geword, my pa se reënmeter al
minder vol. , Die bankrot veilings meer, die staatsubsidies minder. Die groter
boere met hulle dik tjekboeke het die kleiner boere se grond vir ‘n appel en ‘n
ei opgekoop.
My pa se obsessies met reën het hom een aand amper duur
te staan gekom toe ‘n weerligstraal voor hom vasgeslaan het terwyl hy die
reënmeter wou lees. My pa en reën het soos ou vriende saamgeloop. Hy het immers
ingestem dat sy werksmense my “Mapule” noem, wat beteken “sy kom met reën”. Na my geboorte in Februarie 1966, ‘n droogte
met groot reën gebreek het.
So was dit ook gepas dat hy sy afskeidsboodskap op die
aand van sy dood in Junie 2000 in ‘n los bui reën uit ‘n wolklose hemel gestuur
het. Daardie September met die eerste somerreëns het ek buite gaan staan met
reën wat teen my afstroom, terwyl ek kyk hoe die water sy reënmeter vul.
Dertien jaar later het ek ons familiehuis verkoop, die Kalahari
se oker sand en sy kameeldorings agtergelaat en na Bloemfontein , die stad van rose getrek. Sy
watermeter het ek agter gelos, dit sou nie dieselfde betekenis in die Vrystaat
hê nie. Toe ek ‘n jaar later by die huis verby ry , het hulle die voorste gras plavei.
Ek dink nie die nuwe intrekkers het ooit opgekyk om die wolke te lees nie. Sy reënmeter
het heelwaarskynlik op die ashoop beland.
Bloemfontein was goed vir my en baie gou het ek , ʼn ons
geword. My geliefde wat uit die karoo se landskap van eenvoud en aardsheid
gekom het, het ook verstaan van opkyk, reën en hoop. Ek het gespot dat ek my
werk doen, want elke Desember as ons in die Karoo gekuier het , het ek reën
gebring.
Die gras het heup hoogte gegroei en die skaap was spek
vet en gesond. En toe vier jaar terug verdwyn die wolke en die reën. My skoonpa
se reënmeter bly leeg. Elke kuier is die
skaap maerder en die plante minder.
My skoonpa gaan soek antwoorde in sy plaas
dagboeke oor die reën siklus. Hy bring die skaap nader aan die plaasopstal en
begin voer koop. Sy koöperasie rekening word groter en sy vee minder. Die
plaasdam raak halfvol en die boorgate raak leeg. Elke oggend hou ons
huisgodsdiens en bly opkyk , maar die lug bly blou.
Die koöperasie stop die boere se rekeninge en ander omgee
boere en gemeenskappe reg oor die land begin voer aflaai. Dit word soos kosbare
edelgesteentes, bietjie-vir -bietjie vir die vee uitgedeel , net om hulle aan
die lewe te hou.
Laas Desember is daar net 3 doringbos geraamtes en grond
oor op die plaas. My skoonma se grasperk is ‘n stof kombers en ‘n honderdjarige
bloekomboom staan verdor sonder ‘n blaar. Junie verkoop my skoonpa , die helfte
van sy kudde en stuk -stuk trek hy en my skoonma dorp toe. ‘n Leeftyd se werk
en bymekaar maak verkrummel tot oudag swaarkry.
Die dominee preek oor die gif of gawe van moeilike tye,
hy soek hoop in Hebreeuse tekste. My skoonpa se broer sê “ons moet minder oor
die droogte preek”. Maar die dominee kyk op en soek troos vir sy gemeente. Dit
kom in die vorm van omgee van ander gemeentes , kospakkies en omgee geskenke. My skoonma se oproepe is oor stof en skaam
dankbaarheid oor ander se omgee.
Ons laaste kuier reën dit 5 druppels in die nag wat
skaars die paar vetplante in die tuin natmaak. Die wind loei onvergenoegd om
die dorpshuis se hoeke. Ek droom van my pa onder ‘n kameelboom wat opkyk na ‘n Kalahari
donderstorm en ‘n vol reënmeter.
Die volgende dag ontdek ons ‘n nou ou boorgat
langs die huis. Die klank van klippies wat die water tref is soet. Ek besef
dalk is die water nie meer in die lug, maar in die dolomiet van oertyd se Karoo
rots.
‘n Paar weke later droom ek weer van my pa, hy kyk af en sê
“ moet nooit ophou hoop “. Daar sal weer gerugte van reën kom. Hy het net nie
gesê hoe lank nie……..

No comments:
Post a Comment